Cindy Nell-Roberts

201112cindyDie voormalige Mej. Suid-Afrika Cindy Nell-Roberts se skoonheid bly opvallend, maar dis haar vermoë om gesond te leef, haar man en seuntjie gelukkig te hou en sukses in die sakewêreld te bereik – alles gelyk – wat werklik verstommend is.

abouTime: Wat was jou hoogtepunte vanjaar?
Cindy:
2011 was ’n wonderlike jaar. Ons onderneming, Cosmetix, het fenomenaal gegroei; ons het ’n paar nuwe skoonheidsreekse met sukses bekendgestel; ’n pragtige seuntjie in die wêreld gebring; en ek het ’n groot modelkontrak geteken met Veet vir 2012.

aT: Jy het jou baba-gewig vinnig afgeskud… Hoeveel kilo’s het jy verloor?
Cindy:
[Lag.] Twintig. My seuntjie was 4.2 kg toe hy gebore is en teen die laaste week was ek maar ’n ou seekoeitjie. Dit is anders vir almal, en solank jy gesond bly, maak dit nie saak hoeveel jy optel nie. Ek het tot op 35 weke nog gaan gym, en tot op die dag nog daagliks gaan stap.

aT: Watter gesondheidsreëls volg jy?
Cindy:
Ek glo aan ’n hoë-proteïen-leefstyl: eiers in die oggend, proteïen soos vleis, hoender of vis met groente of slaai vir middag- en aandete, en peuselhappies soos neute, biltong en rou groente. Ek vermy onnodige suiwel en verfynde koolhidrate.

aT: Vertel ons van jou oefenprogram.
Cindy:
Ek doen gewigsoefeninge twee maal per week, pilates twee maal per week en probeer twee keer ’n week gaan stap. Dis my “ek-tyd”. Ek moet uitwerk wat ek geniet, want as oefen nie lekker is nie, sal jy dit nooit volhou nie.

aT: Watter raad het jy vir nuwe ma’s wat goed in hul lyf wil voel?
Cindy:
Doen iets, of maak vrede met jouself. Sluit aan by ’n klas of kry ’n persoonlike instrukteur.

aT: Hou jy van kosmaak?
Cindy:
Ja, maar my man, Clive, is ’n bobaas-sjef, so as ek verkul, is dit omtrent altyd sy skuld!

aT: Wat is jou gunsteling-restaurant?
Cindy:
My gunsteling-restaurant is Clive s’n, The Grillhouse in Rosebank; goeie kos, goeie diens en ’n baie lekker atmosfeer.

aT: Hou jy van vlieg? Vlieg jy graag met 1time?
Cindy:
Ja, ek vlieg dikwels met 1time. Ek spot altyd en sê ek koop eerder nuwe skoene met die geld wat ek spaar. ’n Goeie prys, diens, en geen houding by die inboek-toonbank nie is al wat ek vra, want dit is stresvol genoeg om te vlieg. My enigste klagte is dat daar nie ’n groot verskeidenheid op die spyskaart is vir iemand wat nie brood eet nie.

aT: Watter vreemde dinge het al met jou gebeur omdat jy so herkenbaar is?
Cindy:
Juis laasweek op ’n  1time-vlug sê die man langs my: “Jy was mos die promo girl vir daai shooters nou die aand!” “Nee,” sê ek. “Is jy seker?” sê hy. “Ek ken jou mos, man!” En om aangestaar te word is darem nie lekker nie. Ek is eitlik ’n baie skaam mens in groot groepe.

aT: Hoe hou jy jou voete so plat op die aarde?
Cindy:
Ek het twee lewens: Dié van ’n voormalige Mej SA,TV-aanbieder, model en openbare figuur, en dié van ’n sakevrou, ma, dogter, vrou en vriendin. Ek lag altyd daaroor, want my twee lewens is so anders. Een dag is ek op kantoor of doen ek winkel-inspeksies, en die volgende dag is ek in ’n studio vir ’n fotosessie of by ’n glansgeleentheid. Dit hou my op die aarde. Ek weet waar my waardes lê.

aT: Onderskat mense soms jou sakevernuf?
Cindy:
Ja, soms. Maar dit pla my glad nie. Ek is baie goed met wat ek doen, en wat ek en Clive in die skoonheidsbedryf doen, is revolusionêr. My roem is irrelevant, en tensy ek dit tot voordeel van die kliënt kan gebruik, hou ek dit eenkant in my ander lewe.

aT: Vertel ons ’n bietjie van jou maatskappy, Cosmetix.
Cindy:
Cosmetix voer in, voer uit en ontwikkel en vervaardig verkeie velsorg-, sonverbruining- en grimeer-reekse. Ons verskaf topgehalte produkte teen ’n derde van die prys  van al die mededingers.

aT: Watter skoonheidsraad kan jy met lesers deel vir die somer?
Cindy:
’n Mooi bruin lyf lyk altyd sexy en gesond. Ek wend graag my Caribbean Tan Mousse aan voor slaaptyd en word wakker met ’n mooi bruin vel wat omtrent ’n week hou. Dit laat jou ook maerder lyk. My topwenk is: sonroom, sonroom, sonroom. Sonskade herstel nooit heeltemal nie.

aT: Wat wens jy het jy meer van gehad?
Cindy:
Tyd en geduld.

aT: Glo jy in Nuwejaarsvoorneme?
Cindy: Ek dink jy moet altyd wil beter wees. Om te begin is maklik, om iets vol te hou is die probleem! Stel haalbare doelwitte en sit ’n stelsel in plek om dit vol te hou.

aT: Wat is die beste raad wat iemand al ooit vir jou gegee het?
Cindy: Alles in die lewe is maar 10% talent en 90% harde werk. Jy kan enigiets doen en wees, maar jy moet insit wat jy wil uitkry.

Al Cindy se skoonheidsreekse van Cosmetix is beskikbaar by Clicks, DisChem en apteke landwyd, en die professionele reekse by salonne landwyd. Besoek haar webtuistes: http://www.cindynell.co.za/; http://www.cosmetix.co.za/; http://www.caribbeantan.co.za/; http://www.skin-science.co.za/; http://www.essence.eu/; http://www.catrice.eu/.

WIN!
Five lucky readers will each win a hamper of Cindy’s favourite summer goodies to the value of R1,000 per hamper. The hampers include:
- A copy of Cindy Nell’s Model and Pageant Handbook (Everything you have ever wanted to know about the industry, available in Exclusive Books)
- Caribbean Tan self tanning and sun protection products
- Skin Science Skincare daily moisturiser with SPF 20

Simply SMS the word TIME, followed by the word CINDY and your NAME to 35131. Cost per SMS is R1,50. Competition closes 31st December 2011. By entering this competition you consent to receiving electronic information pertaining to abouTime and/or 1time airline. Terms and conditions apply.

Storie deur Jacqueline Cochrane


Leave a comment:



1time