Eet Jou Spanning Weg

201011eetNovember is ’n moeilike maand, met jaareindgesellighede, vakansiereëlings, en berge werk wat nog wag voor die kantoordeur uiteindelik gesluit kan word en daai welverdiende Desember-blaaskans kan begin. Seil deur hierdie spanningsvolle tyd deur slim koskeuses te maak.

Dit is ongelukkig nou maar eenmaal so dat hoe hoër die spanningsvlakke is, hoe meer geneig ons is om verkeerd te eet. Party mense hou heeltemal op eet en slaan een maaltyd ná die ander oor, en sommiges  vergryp hulself aan al wat ’n soetding is. Albei gewoontes is ewe ongesond, en só ontstaan ’n bose kringloop wat jou nóg moeër en meer lusteloos laat voel. In TV-advertensies blyk sjokolade en roomys ’n kalmerende uitwerking te hê; een happie en saligheid is joune!

Ongelukkig werk dit nie so nie. Suiker en verfynde koolhidrate mag ’n mens dalk ’n kort termyn hupstoot gee, maar daarna daal jou energievlakke nóg laer. Daar is ook bewys dat ’n dieet wat hoog in verfynde en geprosesseerde kosse is tot neerslagtigheid kan bydra. Neem beheer van jou emosies en energie, en begin deur slim keuses te maak wanneer jy kos in jou winkeltrollie laai.

Die ontbyt van kampioene
Hawermout bly ’n staatmaker wat in elke koskas behoort te wees. Alhoewel  kits-hawermout sal deug as dit nie anders kan nie, bly rou, gerolde hawermout  die beste. Bedien dit gemaal of gerooster saam met neute, ’n bietjie heuning en droëvrugte. Hawermout het ’n lae glukemiese indeks (GI), wat beteken dat jy vir langer versadig sal voel en dat jou liggaam vet eerder as spiermassa sal verbrand  wanneer dit ekstra energie nodig het. Daar is ook ’n verband tussen hawermout en die vrystelling van serotonien, ’n goedvoel-hormoon. Hawermout sal dus nie net die hongerpyne op ’n gesonder manier langer laat wegbly nie, maar gaan jou ook help om koelkop te bly wanneer dinge begin dol raak op kantoor.

Vreugdevolle vrugte
’n Goeie alternatief vir hawermout is ’n bakkie vars vrugte en laevet joghurt. Sitrusvrugte, appels, pere, perskes, pruime en vars perskes het ’n lae glukemiese indeks. Dit is ook baie belangrik om seker te maak dat jy genoeg vitamien C inkry, veral wanneer jy onder druk is. Vitamien C help om jou bloeddruk en kortisolvlakke (kortisol is een van die stres-chemikalieë) te reguleer. Onthou dat jou liggaam meer vitamienaanvullings tydens spanningsvolle tye nodig het, so maak seker dat daar hope vars groente en vrugte in jou yskas is. Sodoende sal jy ook jou weerstand opbou, want wie wil nou siek wees wanneer die Desembervakansie uiteindelik aanbreek? Vitamien C kom nie net in lemoene voor nie; kiwi vrugte, aarbeie, pynappels, veselperskes en “goji”-bessies is almal goeie bronne. Bessies is altyd ’n goeie keuse. Meng byvoorbeeld bevrore bessies met ’n bietjie joghurt vir ’n heerlike, gesonde stres-werende versnapering wat ideaal is tussen maaltye, of om jou suikertand gelukkig te hou. Hou ’n pakkie droë appelkose en amandels in jou laai of handsak vir gejaagde tye.

Tower spanning weg met tee
Kruietee is nie net ’n gier nie! Rooibostee, daardie plaaslike legende wat groot nuus is in die buiteland, bly ’n goeie keuse. Stres versnel die loslating van vry radikale, en die hoë vlakke van antioksidante wat in rooibostee voorkom, help om hierdie skadelike molekules te beveg en te neutraliseer. Bedien dit koud saam met ys, ’n paar skywe suurlemoen, ’n bietjie helder appel- of druiwesap en heuning vir ’n verfrissende drankie wat jou gemoedstoestand ook sal opkikker. Kamilletee sal help om gaar senuwees te laat ontspan. Drink ’n koppie snags voor jy gaan slaap om ’n goeie nagrus te verseker. Gemmer- en kruisementtee help met spysvertering, en groentee kan, volgens kenners, help om hartsiektes te voorkom.

Die regte vette
Mono- en poli-onversadigde vette is goed vir jou. Avokado’s is ’n wonderlike bron van goeie vette; so ook neute, grondboontjies en hoë gehalte olyfolie. Een van die maklikste maniere om goeie vette in te kry, is om sogenaamde soorte “vet vis” in jou dieet in te sluit. Probeer om salm, makriel of sardyne ’n paar maal per week te eet. Indien jy nie van hierdie vissoorte hou nie, kan jy ook daaglikse Omega-3 aanvullings  gebruik. Volgens kenners kan hierdie olies aansienlik help om depressie te voorkom en in toom te hou. Daar is bevind dat nasies wat baie vis eet oor die algemeen aansienlik laer vlakke van depressie toon.

Die regte denkwyse
’n Moderne leefstyl is dikwels  ’n gejaagde een, en lang ure op kantoor, slapelose nagte en probleme met verhoudings en gesinne dra baie keer by tot hierdie spanning. Langdurige stres knou nie net ’n mens se emosies nie, maar kan ook tot verskeie siektetoestande lei, en goeie eetgewoontes is dus ’n belegging in jou gesondheid. Dink ’n slag twee keer voor jy ’n sjokoladestafie en koppie koffie in plaas van ’n gebalanseerde middagete nuttig. Jou toekoms en dié van jou gesondheid is eenvoudig nie die suiker-skop werd nie.

Storie deur Jacqueline Cochrane


Leave a comment:



1time