Leef Ligter
Carol Langenhoven – aangewys as die beste blogger van 2010 en skrywer van die topverkoperboek Tallie se storie – se man het soos vele Suid-Afrikaners sy werk tydens die resessie verloor. Maar Carol en haar gesin het nie toegelaat dat dit hulle onderkry nie en leef vandag ligter, eenvoudiger, gehalte-gedrewe en met die werklikheidsbesef dat wat jy vandag het, môre weggeneem kan word.
86,000 Suid-Afrikaners het net tussen Julie en September van 2010 hul werk verloor. Carol Langenhoven (49) het deel geword van die gevreesde werkloosheidstatistiek tydens die resessie. Haar man, Simon, is soos menige ander uit die bloute uit diens gestel in Junie 2009. Carol en haar gesin het gemaklik gelewe: ʼn woonhuis, ʼn strandhuis, twee duur motors en geen bekommernis oor waar die geld vandaan kom nie. En toe val haar man se goeie salaris weg. “Ek het aanvanklik gedink Simon sal gou weer werk kry. Dat daar afleggingsgeld aan Simon belowe is, het ’n verwagting geskep wat nooit realiseer het nie,” vertel Carol.
Haar man het sy eie onderneming begin, maar dit het aanvanklik nie goed gegaan nie en hulle gesin moes met net Carol se salaris oorleef. Dit was ʼn moeilike tyd en toe hul huis – wat reeds in die mark was om na ʼn beter woonbuurt te trek – verkoop is, kon hulle beswaarlik die huur van ʼn tweeslaapkamer-woonstel bekostig. Dit was ook vir haar man, wie se lewe om sy gesin draai, baie moeilik en daarom het hy homself ’n paar keer gedurende die eerste paar maande aan drank vergryp. Carol moes sterk wees en beheer neem. “As ʼn vrou haar werk verloor, verloor sy net haar werk. As ʼn man sy werk verloor, verloor hy alles,” sê Carol.
Dis in hierdie tyd wat Carol besluit het sy wil ander Suid-Afrikaners wat in dieselfde bootjie is op ʼn manier help. Maar wat net ʼn vlietende blog op die tydskrif **Sarie** se webwerf sou wees, het ontaard in gereelde en inspirerende leesstof en Carol is in 2010 met ʼn ATKV-Mediaveertjie as blogger van die jaar bekroon. Haar suksesvolle blog het uiteindelik 20,000 gereelde lesers gehad, en dit het haar ook inspireer om ʼn boek te skryf wat in 2010 verskyn het. In haar blog en boek deel Carol haar en haar man se daaglikse stryd om oorlewing, maar ook grappenderwys hoe veelsydig pasta is en dat jy dit basies saam met enigiets kan eet as jy moet geld spaar.
ʼn ‘Ligter’ leefwyse
In Tallie se storie deel sy die pad wat sy en haar gesin gestap het, maar ook die belangrikste: Wat hulle uit hierdie moeilike pad geleer het. Vandag gaan dit weer beter met hulle en haar man se onderneming vaar goed, maar hul leefwyse het handomkeer verander. “Ek sien ons Hemelse Vader se hand in ons lewe. Ek raak nie meer ontsteld oor kleinighede nie. Ons koop net wat nodig is. Ek leef vir vandag, want aan gister en môre kan ek vandag niks verander nie.” Carol vertel ook dat dit wat gebeur het, haar en haar gesin nader aan mekaar gebring het. “Daar is meer waardering vir mekaar en ons ondersteun mekaar geweldig. Die kinders (Wouter, wat in ’n woonstel langs die huis woon, en Mia, wat in Amerika woon) sal ook baie maklik kom raad vra oor geldsake, wat hulle nie voorheen gedoen het nie.”
Suid-Afrikaners van die mees materialistiese mense ter wêreld
Suze Orman het einde laasjaar tydens ʼn mediakonferensie in Suid-Afrika gesê dat Suid-Afrikaners van die mees materialistiese mense ter wêreld is. Orman het selfs genoem dat sy nie in enige stad in Amerika soveel BMW’s gesien het soos in Suid-Afrika nie.
Volgens Carol het sy ook die afgelope jaar en ʼn half bewus geraak van die materialisme in ons land. “Daar is bitter min mense, indien enige wat ek van weet, wat nie onnodige, onbruikbare items in hulle wonings het nie. Materialistiese items en hul waarde bepaal baie maal wie en wat ons is. Ons is ’n nasie wie se vrese, onsekerheid en seerkry dikwels met ‘goeters’ gedokter word.”
Carol se raad aan Suid-Afrikaners is om om jou rond te kyk en régtig te sien wat jou omring. “Enige item wat stof opgaar, word nie genoeg gebruik om ’n noodsaaklikheid genoem te word nie. Dis eenvoudig. Raak ontslae daarvan en leer om ligter te leef.” Vra jy haar of sy nie soos menige vroue steeds in versoeking kom om mooi goed te koop nie, is haar antwoord eenvoudig: “Mooi bly mooi. Ek koop dit net nie meer nie, want ek het genoeg.”
Storie & Foto’s © Conette Hamman-le Roux
