Op Die Oorlogsperd

201201afrikaansWar Horse het voortreflike resensies in Londen se West End en op Broadway ontvang, en het vyf Tony’s in 2011 gewen. Dit is die Handspring Puppet Company se perde-marionette wat hierdie teaterproduksie so skouspelagtig maak.

Die vulletjie staan op tingerige bene, huiwerend senuweeagtig en met ore nuuskierig na vore gerig. Voor hom staan ’n jong man met ’n emmer vol voer. Hy buk, kniel op een been en strek sy hand uit. “Kom seun… Ek belowe ek gaan jou nie seermaak nie. Kyk, dis kos!” Maar sodra hy opstaan, retireer die vul. Die jong man begin ongeduldig raak. “Ag kom tog nou, ek weet jy wil!”
So ontmoet ons vir Albert Narracott en Joey, ’n jong man en sy perd, die twee sterre van ’n toneelstuk genaamd War Horse. Die man en dier smee ’n diepgewortelde vriendskap, maar dan word Joey verkoop om vir die kavallerie in die Eerste Wêreldoorlog te dien. Alhoewel hy nie oud genoeg is om ’n soldaat te wees nie, besluit Albert om te gaan veg sodat hy weer sy perd kan vind. Dit is ’n skouspelagtige verhaal wat die gruwels van die oorlog met besondere menslikheid en meegevoel uitbeeld.

Tensy jy teaters in Londen se West End of New York se Broadway besoek, is die kans maar skraal dat jy die produksie al vantevore gesien het. Tog is die naam waarskynlik bekend. Dit is dalk omdat War Horse al soveel toekennings ontvang het en omdat die bekroonde perde-marionette wat die stuk so spesiaal maak deur ons eie Handspring Puppet Company in die Kaap gemaak is.

Adrian Kohler, wat saam met Basil Jones die Handspring Puppet Company gestig het, kan nie ’n tydperk in sy lewe onthou toe marionette nie in een of ander vorm teenwoordig was nie. Kohler se ma het self met marionette gewerk, en hy vertel hoe sy pa vir haar ’n verhogie in hul motorhuis opgerig het.

Kohler en Jones het mekaar in 1971 op kunsskool ontmoet. Daar was meer as net ’n kreatiewe verstandhouding tussen die twee kunstenaars, hulle was ook verlief, en het in 1981 – saam met ’n paar ander vriende – die Handspring Puppet Company gestig. 20 jaar daarna het Tom Morris van Londen se National Theatre ’n produksie genaamd Tall Horse gesien. Marthinus Basson was die regisseur en daar was ’n asemrowende lewensgroot kameelperd-marionet wat uit Handspring se werkswinkel gekom het. Toe Morris besluit het om War Horse na Londen se teaters te bring, was die poppemeesters van Handspring Puppet Company ’n vanselfsprekende keuse.

Tesame met marionetmaker Thys Stander het Jones en Kohler dadelik aan die werk gespring om ’n prototipe te bou. Daar was talle uitdagings: Die perde moes lewensgroot wees; in so ’n mate kan beweeg dat hulle oortuigend is; lig genoeg vir twee beheerders binne die raamwerk, maar sterk genoeg om ruiters te kon dra.

Saam met Stander het hulle ’n rottang-struktuur ontwerp, waarin drie beheerders die perd se bene, nek, stert en ore kon beweeg. Hul grootste uitdaging en prioriteit was egter om die poppe te laat asemhaal.

“Almal weet dat ’n akteur nooit op die verhoog kan sterf nie; hy moet terug huistoe gaan ná die tyd,” vertel Kohler. “Maar met ’n marionet is dit die teenoorgestelde; die pop is dood, en moet met baie moeite sukkel om te ‘leef’, en op so ’n manier dat die gehoor daarin glo dat dit ’n regte, lewende wese is,” vertel Kohler. “ ’n Pop moet probeer om soos ’n mens te lewe; dis ook deels waarin hul sjarme lê. Vir een van die perde om werklik te lewe, moet die gehoor oortuig word dat hy werklik asemhaal.”

Kohler wou die asemhalingsbeweging aanvanklik ’n realistiese beweging maak waar die perd se borskas kante toe uitdy, maar het vinnig besef dat die gehoor dit nie sal sien nie. Daar is toe besluit om die perd se asemhaling in ’n op-en-af-beweging vas te vang wat die beheerders binne-in die raamwerk regkry deur eenvoudig hul knieë te laat sak.

Die uitwerking is nie net oortuigend nie, dit is magies. Kohler beskryf die samewerking tussen drie beheerders (hy verwys na hulle as die manipuleerders) as een van die mees oortreflke aspekte omtrent die produksie. “Dit is drie mense wat saamwerk om een dier, een oortuigende wese, te vorm. Hulle het geleer om soos mekaar te dink en instinktief te reageer, want hulle kan ook nie met mekaar praat op die verhoog nie. Dit is ongelooflik en het ’n wonderlike uitwerking op die gehoor.

Mense het om een of ander rede ’n sterk emosionele reaksie tot die perde in die verhaal. Dis iets wat almal aanraak, en ’n mens kan nooit daai soort reaksie beplan of verwag nie,” deel Kohler.
Dit is dus nie verassend dat War Horse en die produksie se wonderlike marionette al soveel pryse gewen het nie, waaronder vyf Tony’s, ’n Evening Standard-teaterprys, ’n London Critics Circle-teaterprys en ’n Olivier-prys. In 2011 het altesame meer as ’n miljoen gehoorlede die produksie in Londen gaan kyk. War Horse het ook Broadway toe gegaan, en gaan in 2012 na Toronto, Kanada. Steven Spielberg was so aangegryp deur die verhaal dat hy dit verfilm het en ’n fliek daarvan gemaak het.

Tog meet Kohler en Jones nie hul sukses aan al die lof en pryse nie. “Ons lewe het heeltemal verander,” sê Kohler. Hy vertel hoe niks hom trotser maak as dat hulle kunstenaars en werkers in diens kan neem om in hul fabriek naby Muizenberg te werk nie, wat die sukses van War Horse hulle toelaat om te doen. Elke stuk word met die hand gemaak, iets wat in ’n  tegnologiese era vinnig aan die uitsterf is. Kohler, Jones en die ander lede van die maatskappy beywer hulle ook om die plaaslike gemeenskap te verryk met die Handspring Trust, ’n nie-winsgewende organisasie wat kreatiwiteit en poppe- en teaterkuns bevorder. In Desember het hulle saam met Magpie en Net Vir Pret in Barrydale gewerk om aan ’n gemeenskapsprojek te werk wat op die 16de Desember uitgevoer is.

War Horse is gegrond op ’n kinderboek, en Handspring Puppet Company se poppe maak weer kinders van elke gehoorlid, sodat elkeen weer wil glo in die onmoontlike, die magiese en dit wat sprokieagtig is.

Suid-Afrikaners gaan War Horse in 2014 plaaslik te siene kry.

Woorde deur Jacqueline Cochrane


Leave a comment:



1time