Smulkos vir die Langpad
Padkos is eg Suid-Afrikaans en geen langpad-reis is dieselfde daarsonder nie. abouTime kyk na nuwe sowel as tradisionele idees vir onweerstaanbare smulhappies wat die pad korter sal laat voel.
Tradisionele Padkos
In vandag se gejaagde tye is baie vakansiegangers geneig om eerder kitskos by vulstasies te nuttig, want ons wil mos ry en klaarkry. Nietemin kom geen gekoopte pastei, hamburger of vis en tjips naby die verruklike smaak van tuisgemaakte padkos nie. Dink bietjie terug aan vakansieherinneringe uit jou kinderdae… Die rit Kaap, Durban of plaas toe sou eenvoudig nie dieselfde gewees het sonder al die heerlike peuselgoed wat Ma so sorgvuldig voorberei, verpak en by haar voete bewaar het nie.
Die meeste mense sal saamstem dat padkos minstens uit verfrissende drinkgoed, iets vleiserigs and ’n ietsie met brood moet bestaan. Geurige frikkadelle is ’n moet in enige tradisionele padkosmandjie en sal vleiseters gelukkig hou. Biltong en droëwors, verkieslik nog in die slaghuis se bruinpapiersakkies verpak, is natuurlik net so ’n stapel, en boereworsrolletjies (sny ’n gewone een in twee of drie om dit peuselgrootte vir kinders te maak) is altyd ’n treffer.
Hoenderboudjies, vlerkies en dytjies, in foelie toegewikkel, is ook smaaklik, of dit nou warm of koud bedien word. Vir baie mense is ’n hardgekookte eier ’n staatmaker, maar eiers en eiertoebroodjies kan ook die kar met onaangename reuke vul, en moet om daardie rede liefs vermy word. Kies eerder klassieke toebroodjievulsels soos biltong, ham, mostert, kaas en hoender en mayonnaise. Vetkoek en roosterkoek is ook eg Suid-Afrikaanse wenners, en kan met soet vulsels soos stroop, heuning en konfyt bedien word, of iets souterig soos maalvleis, fyngekapte biltong en kaas.
Souttertjies en muffins is ook heerlik om sommer so in die ry aan te smul, maar moenie die drinkgoed vergeet nie. ’n Bekertjie soet boeretroos, so uit die fles bedien, smaak altyd heerlik, en vrugtesap (vries dit die aand voor die tyd sodat dit koel bly) en aanmaakkoeldrank sal kinders en diegene met suikertande gelukkig hou.
Proviand vir Fynproewers
Sommige mense verkies om padkos in die motor te eet, maar wie kan die bekoring van daai sementtafeltjies langs die pad weerstaan? Onthou om ’n vrolike tafeldoek (ou lakens werk ook goed!), papierborde, papierbekertjies en servette in te pak, asook ’n ekstra plastieksak vir weggooigoed. Klam lappies (wet wipes) is ideaal om vetterige vingers en taai monde ná die tyd mee skoon te maak, want padkos moet liefs met die hand geëet word!
Padkos hoef allermins vervelig te wees, en kan maklik in ’n heerlike fynproewersfees omskep word. Diegene wat nie bestuur nie, kan ’n glasie rooiwyn, rosé of sangria geniet, maar ystee uit ’n fles is net so ’n lekker lafenis ná ’n lang sessie agter die wiel. Maak sommer jou eie ystee met rooibostee, suiker, vrugtesap en ’n handvol speserye soos naeltjies en anyssade (daar is baie resepte op die internet beskikbaar).
’n Padkosmandjie met ’n Mediterreense geur is maklik om in te pak en is ideaal vir diegene wat nie tyd het om te bak en te brou voor die vakansie nie. Pak melba-roosterbroodjies, brosbeskuitjies (crackers) en gesonde happies soos klein tamaties, babaworteltjies en komkommerrepies in jou piekniekmandjie. Bedien dit saam met ’n verskeidenheid smere soos roomkaas en tapenades wat van olywe gemaak is; doopsouse soos hummus, tzatziki en mayonaisse wat met ’n bietjie Tabasco gemeng is; en patees wat van snoek of lewer gemaak is.
’n Verskeidenheid kase (verpak dit in ’n koelhouer om te voorkom dat dit sweet) is net die ding vir kieskeurige eters. Brie, bloukaas, camembert en ’n bokmelk chevin is heerlik, veral saam met ’n growwe Franse brood (baguette). Kouevleise soos repies gerookte hoenderborsies, mortadella, parmaham en salami sorg vir net die regte hoeveelheid soutigheid, en kan afgerond word met songedroogde tamaties en olywe. Slaailiefhebbers hoef ook nie afgeskeep te word nie. Koop of maak self ’n aartappelslaai, beetslaai of koeskoes-slaai met geroosterde groente of botterskorsie en fetakaas, of plaas ’n stukkie basiliekruid, mozarellakaas en tamatie op ’n tandestokkie vir ’n watertand caprese-peuselhappie.
Padkos hoef ook nie noodwendig ongesond te wees nie. As jy jou cholesterol en kilojoule-inname dophou, kan jou padkosmandjie gevul word met goed soos maer vleis (byvoorbeeld biltong sonder vet, hoender sonder die vel, of repies maer biefstuk saam met peppadews en roketblare), vars vrugte (vergeet van appels en piesangs, bederf jouself met vars kersies, veselperskes, pynappels en bessies), droëvrugte (dit is natuurlik vetvry), koppietjies laevet joghurt, neute, wraps met gesonde vulsels, springmielies, rogbroodjies, mielies op die stronk en avokadopere.
Storie deur Jacqueline Cochrane
