Uitgesproke
Die komediant, rubriekskrywer, radio-omroeper en TV-aanbieder Rian van Heerden gesels met abouTime oor sy sogenaamde omstredenheid, die wanindrukke wat mense oor hom het en die kwaliteite wat hy in ander bewonder.
Hoe behandel 2011 jou tot dusver?
Hierdie jaar het inderdaad heelwat nuwe geleenthede gebring, so heel goed tans!
Wat was die moeilikste onderhoud wat jy nog moes voer? En watter een sal jy altyd onthou?
Die moeilikste was Franz Kemp, die joernalis wat onlangs oorlede is. Ek het hom gevra oor sy dogter wat selfmoord gepleeg het by die Van Stadensrivierbrug en dit het hom hewig ontstel. Die mees memorable vir my persoonlik was my gesprek met Marius Barnard, broer van Chris, wat ook betrokke was by die eerste hartoorplanting.
Jy word dikwels as omstrede beskryf. Is daar enigiets wat jy al ooit kwytgeraak het wat jy werklik sou wou terugtrek?
Nie een enkele ding nie. Alles was maar net my eerlike opinie.
Jy is al beledig en rondgeklap voor die kameras, maar wat is die vreemdste ding wat al op een van jou programme gebeur het?
Ek dink onmiddellik aan opnames wat ons gemaak het tydens ’n spookjag by die ou Fort in Bloemfontein (’n gewese sanatorium), waartydens ’n ou helm op sy eie stoom beweeg het van ’n stoel af!
Jou uitgesprokenheid het jou al talle kere in die moeilikheid laat beland. Wat verg dit om te kan aanhou om jou sê te sê, dikvelligheid of onsensitiwiteit? En is dit iets wat jy moes aanleer?
Ek dink nie ek is dikvellig of onsensitief nie… ek is bloot eerlik. Dit was nog altyd vir my ’n wesenlike probleem dat ons kultuur jou as kind (en selfs as volwassene) gedwing het om jou opinie vir jouself te hou. Ek moes inderdaad dit aanleer om op my regte te staan en te sê wat ek dink.
Wat is die beste raad wat iemand nog aan jou gegee het?
Tyd is kosbaar.
Wat dink jy van ander sogenaamde omstrede omroepers soos Darren Scott en Gareth Cliff? Waar is die grens as dit by spraakvryheid kom?
Geen reg is natuurlik absoluut nie, en is ook aan die regte van ander mense onderhewig. Ons het heelwat sensitiwiteit in ons land, veral wat ras en geloof betref, en daarom moet hierdie onderwerpe met uiterste versigtigheid benader word.
As jy eendag oud en grys is en terugkyk op jou lewe, wat is die een ding waarin jy graag sou wou geslaag het?
Dat ek nie stilgebly het nie.
Waarvoor is jy bang?
Motte!
As Suid-Afrikaners neem ons onsself baie ernstig op. Hoekom dink jy is ons só? Is ons besig om te verander?
Ongelukkig is dit so dat ons deur dekades gegaan het waarin heelwat van ons sin en ervaring van pret deur die regering en die kerk gereguleer is. Natuurlik sal die gevolge hiervan steeds in die nageslagte sigbaar wees. Maar dinge is beslis besig om te verander.
Hoe het jou lewe verander nadat jy openlik oor jou seksualiteit begin praat het? Wat dink jy van ander bekendes wat verkies om in die kas bly?
Ek is steeds baie bly dat ek die besluit geneem het. Ek kan nie myself as ’n eerlike persoon verkondig en dan nie ook eerlik wees oor hierdie aspek van myself nie. Die vryheid wat ek nou ervaar, sal ek vir niks verruil nie. Ek voel egter steeds dat dit elke persoon se keuse is om openlik te wees oor hul seksualiteit of nie. Dit is belangrik om te onthou dat veral die jeug rolmodelle nou dringend benodig… Om te weet dat hulle nie alleen is nie..
Watter eienskappe bewonder jy in mense?
Integriteit en stiptelikheid.
Wat wens jy jy het meer van gehad?
Tyd.
Wat gaan jy eendag doen wanneer jy aftree?
Ek dink nie ek sal ooit aftree nie… Net dalk effens minder werk!
Wat is die grootste wanindruk wat mense oor jou het?
Dat ek geen hart het nie.
Hou jy van vlieg? Het daar al ooit iets vreemd met jou op ’n vliegtuig gebeur?
Ek hou inderdaad van vlieg. En gelukkig was al my ervarings op hierdie gebied redelik vervelig!
Wees op die uitkyk vir Rian van Heerden se geselsprogram, ‘Rian’, op KykNET’. Gautengse luisteraars kan ook weekaande om 19h30 na hom luister op Jacaranda 94.2 se ‘That Show’, of besoek sy webwerf by http://www.rianvanheerden.com/.
Storie deur Jacqueline Cochrane
