Voltooier van Gesinsirkels
Leonie Erasmus is ʼn speurder van ’n ander aard. Ná die nodige speurwerk herenig sy aanneemkinders met hul biologiese ouers. abouTime het met haar gesels.
Duisende babas word jaarliks opgegee vir aanneming en is dié grootste geskenk vir kinderlose ouers, hul eie bondeltjie vreugde. Maar tog wil die kinders later dikwels weet wie hul biologiese ouers is, en wil die biologiese ouers met hul kind herenig om daardie groot leemte ná jare te vul. Amper soos ʼn sirkel wat voltooi móét word. Leonie Erasmus van Kleinmond in die Wes-Kaap help hierdie kinders en ouers die sirkel voltooi, en in Leonie se woorde “brand die vreugdevure hoog” ná die meeste herenigings. Sy herenig families al sedert 2004, maar voor dit het sy vir sowat 11 jaar lank vir ʼn maatskappy persone opgespoor wat nie hul rekeninge betaal het nie, en sodoende die nodige vaardighede aangeleer. Leonie werk tans aan 874 sake en het in die afgelope maand 123 ma’s en kinders herenig.
Vertel van opsporings wat jou hart aangeraak het?
“Ek het verlede jaar ‘n biologiese pa en sy seun ná 57 jaar herenig op die seun se verjaarsdag. Al inligting wat die oom (toe reeds in sy 70’s) vir my kon gee, was die verkeerde geboortedatum en die biologiese moeder se van. Ek kon geen rekord vind van hierdie seun se aanneming by enige van die kantore in die betrokke dorp waar die aanneming plaasgevind het nie, maar ek het hard probeer en kon toe uiteindelik hierdie oom se grootste wens waar maak. Pa en seun kuier oor en weer en werk mooi aan hul verhouding. Ek het eers gereël vir berading vir albei van hulle en hulle vorder mooi. Die omie was maar 17 jaar oud toe sy meisie (die biologiese moeder) swanger geraak het.
“Ek het ook onlangs ‘n ma en haar seun ná 64 jaar herenig. Die moedertjie kon nooit weer kinders hê nie ná hierdie seun wat sy verplig was om op te gee vir aanneming. Toe sy die dag trou, moes sy en haar man later self ‘n baba aanneem. Die ou tante was 83 en haar seun was ook reeds ‘n pensioentrekker. Die vreugdevure het hoog gebrand.”
Elke saak het sekerlik nie ʼn gelukkige einde nie?
“Die hartseerste saak waarmee ek ooit gewerk het, was ‘n moeder wat ná 32 jaar my gevra het om haar seun vir haar op te spoor wat sy moes opgee vir aanneming. Sy was so opgewonde en het soveel drome gedroom oor wanneer sy met haar geliefde seun herenig sou word. Ek moes ongelukkig hierdie moedertjie ná ’n week meedeel dat haar seun reeds op 19-jarige ouderdom verongeluk het en dat hy dood is in dieselfde hospitaal waar hy gebore is.”
Is jou werk afgehandel nadat die gesoekte persoon opgespoor is?
“Nee, ek volg gereeld met ma en kind op of alles nog goed verloop, hoe hulle verhouding ontwikkel en of daar enige probleme is. Ek reël soms weer beradingsessies vir die ma of kind om hulle deur die proses te help tot alles uitgesorteer is.”
Waarom is jou opsporingstaak so vervullend?
“Dit is absoluut my passie om ma’s en kinders te herenig. Ek kan dit nie in woorde vir mense beskryf hoe vervullend dit is om soveel mense so gelukkig te sien en om so ’n groot verskil in baie families se lewe te maak nie. Die meeste van die mense wat ek jare gelede reeds herenig het, bel my gereeld en vertel my steeds van spesiale geleenthede, soos ’n nuwe baba of ’n troue. Baie van hulle kry closure en hul hele lewe verander ten goede.”
Wat sê die wet?
“Baie ma’s weet dit nie, maar die wet het reeds in 1987 verander sodat ’n ma en kind na mekaar mag soek. Voor 1987 is ‘n biologiese ouer nie toegelaat om na sy of haar kind te soek of die aangenome kind na sy ouers nie. Die moeders moes almal destyds ’n eed aflê toe die baba vir aanneming opgegee is dat sy in ’n 100 jaar nooit na haar kind sal soek nie. Verlede jaar op 1 April het die nuwe kinderwet ook in werking getree. Nou mag ’n aangenome kind reeds vanaf 18-jarige ouderdom na sy biologiese moeder soek, sonder die aanneemouers se toestemming,” sê Leonie. Kontak Leonie Erasmus by leonieerasmus@telkomsa.net of skakel +27 28 271 5500.
�
Storie deur Conette Hamman-le Roux
